Die Godsbesluit
Voor die onheilswoning en
tussen die skaars-beblaarde
soetdorings staan, in droë aarde
maar lowergroen en blink van blad,
die wag-’n-bietjie langs die pad.
Wanneer ek naderkom dan sien
ek dorings krom en reg;
‘k sien takke inmekaar gedraai
en deurmekaar gevleg.
En wil ek in die blare gryp
of aan die takke breek,
dan tas ek in ’n doringnes
wat vreeslik haak en steek.
Bo al u donker bome, o Heer,
groei my ’n enk’le reusboom uit
dit is die wag-’n-bietjie-bos
van u besluit.
Van ver so skoon, so groen, so blink…
maar hoe verward
wanneer ek dieper kyk en dink
as wat ’n sondaar pas.
En steek ek dan my hande uit
na u besluit,
dan gryp ek in die dorings vas.
Totius (pseudoniem voor Jacob Daniël du Toit), 1877-1953
In 1920 raakte Totius in één jaar tijd een zoontje kwijt aan hersenvliesontsteking en een dochtertje toen zij door de bliksem werd getroffen. Dit verdriet verwerkte hij in ”Passieblomme”, waaruit ook dit gedicht komt.